Join our Community
Interest:
Language:
Page shadow top tuinprojekte-met-anna-tanya

Twee van ons bekendste tuinpersoonlikhede span saam om hierdie inspirerende selfdoenboek te skep.

Pragtige volkleurfoto’s in elke hoofstuk lei jou eers deur ’n magdom kreatiewe voorstelle om jou tuin of sekere dele daarvan in ’n lus vir die oog te omskep. Daarna volg ’n groot verskeidenheid selfdoenprojekte – van iets wat vinnig en goedkoop gedoen kan word soos die aanplant van ’n mooi hangmandjie, tot ander wat ’n bietjie meer dinkwerk, goeie beplanning en ’n dikker beursie verg. Waterfokuspunte en alles wat daarmee gepaard gaan soos pompe, bybehore, fonteine, visse en koi, plante en onderhoud; hoe om die mooiste potte, houers en hangmandjies te beplant, te versorg, uit te stal en resepte vir wenkombinasies; en hoe om mure en keermure, paadjies, patio’s en binnehowe sowel as trappe te bou en te verfraai met die gepaste afwerkings of plante, word breedvoerig bespreek en deurgaans geïllustreer.

Die meeste projekte bevat goeie wenke om jou op die suksespad te hou en sluit kort beskrywings en volkleurfoto’s van geskikte plante in om jou skepping nog meer besonders te maak. Aangesien daar deesdae soveel klem op herwinning gelê word, word selfdoenprojekte met ougoed wat prettig is om te doen en ons andersins meer ekovriendelik met ons planeet laat omgaan, ook ingesluit.

Met die inspirerende volkleurfoto’s, nuttige inligting gebaseer op jare se gesamentlike ervaring en praktiese, stap-vir-stap-aanwysings sal jy nie net jou tuin en leefareas buite kan opkikker nie, maar jy sal ook die kans kry om jou op vele vlakke heerlik in jou tuin uit te leef, tien duime of te niet!

Page shadow bottom tuinprojekte-met-anna-tanya